Page 17 - nuusbrief 2 2025
P. 17
ALGEMEEN
Juffrou Annelie aan die woord
Laaste opening Psalm 23 – die onderwys 15/5/2025
Psalm 23 herskryf deur Juf. Annelie.
Die geld is min en die wêreld is duur, maar die Here is my Herder ek kom niks kort nie.
Die beroep wat eintlik halfdag is word lang ure en werk wat ons nie geleer het op Universiteit
nie, word deel van ons dag maar die vakansies kom, altyd 'n week te laat, maar wat 'n voorreg om
ons batterye by Hom te laai,daar waar ons wel rus te kry by groen weivelde.
Die kinders kan onstuimig raak, baklei, huil, soms voel jy hulpeloos om te help met hulle seer,
maar Hy gee jou wysheid en help jou om die regte dinge te sê sodat jy hopelik kinders kan lei na
waters waar daar vrede is.
Jy staan op, min geslaap, want jou babatjie was siek deur die nag, maar jy moet skool toe en dink
Here hoe oorleef ek vandag? Maar Hy gee jou nuwe krag.
Hy lei jou op die regte paaie tot die eer van Sy naam. Want wat 'n voorreg om geleenthede te hê
om Sy liefde en genade ook vir ook die uitdagende kind te wys wat dit nie altyd vir jou maklik
maak in die klas nie. Jy probeer maar net jou bes om die regte pad vir al die kindertjies te wys.
As die donker diep water jou eie lewe tref en jou lewe val uitmekaar, is nie net Hy by jou om te
troos en te sê moenie bang wees nie, jou kollegas skaar om jou soos Engele en hulle kry die krag
om jou te dra waar jy nie meer kan nie. Tussen 'n klein kinderhandjie en jou kollegas, is jy veilig in
ons Vader se hande.
U Laat my by 'n feesmaal aansit, terwyl my teenstander moet toekyk- nee, dit gaan nie oor wen
nie maar watter feesmaal is dit nie om tussen mense te kan werk wat saam met jou 'n roeping
deel nie.
Jy klim uit jou kar en daar is altyd 'n gesiggie wat met blink ogies jou soos 'n eregas ontvang.
Onbeskaamd kind met volle vertroue in jou. Hulle ontvang jou voorwaar soos 'n eregas en jou
voete raak lig soos 'n ribbok.
Ons word oorlaai met hartlikheid – geen mens in 'n ander beroep kry soveel liefde uit drukkies ,
verdagte lekkertjies uit vuil handjies ( wat nie siek maak nie) maar met volle oorgawe gegee.
God se goedheid en liefde sal my lewe lank by my bly en die totale aanvaarding van kinders sal
ons brandhout vir die oudag word, daardie briefie vol spelfoute word jou kosbaarste geskenk,
drukkie van 'n kind wat hulle nodig gehad het word jou lewens-aar, of ogies wat vra of jy ok is, is
'n tasbare bewys van onvoorwaardelike iefde. Dis dan wat jy God se goedheid tasbaar ervaar.
Ons dae by ons tweede huis is nie vergeefs nie, dis nie gemors nie, dis 'n tuiste vol liefde en
moontlikhede om vir iemand 'n veilige hawe te wees. 'n Voorreg wat geen beroep bied nie. Ons
Vader belowe jou, jy as onderwyser, vertrooster, leidinggewer, sielkundige, planmaker, sal 'n
tuiste vir ander word en jy self sal tuis wees in die huis van die Here, tot in lengte van dae.
In die woorde van Jannie du Toit se liedjie - Eenvoud is die vreugde van die lewe, dis gee en
neem net wat daar is. Dis dankbaar wees vir elke stukkie brood, wat liefde is.
Annelie van Rooyen.
Liewe Laerskool Constantiapark
Dankie liewe Kinders en Ouers dat ek die voorreg mag gehad het om onbeskaamd as 'n instrument van
ons Vader, in U kinders en mekaar se lewens gebruik te kon word. Dankie dat u my toegelaat het om u
kosbaarste besittings te kon onderrig en lief te hê. Hierdie kindertjies, wat al is wat u as ouers hemel
toe kan vat, het my lewe betekenis gegee. Hulle het onvoorwaardelik liefde gegee. Hulle het hul harte
oopgemaak en my 'n stukkie hemel gewys. Ja, hulle was besig, maar deur die besig het ek die
wonderlikste persoonlikhede gesien. Hulle het my uitgedaag en my as mens verbeter. Ek kon sien hoe
hulle groei en hoe die klei vorm. Ons het gelag, grappe geniet, ook baklei en ek het gepreek want sonder
“baklei” is daar nie omgee nie, want mens mag nie 'n kind sommer net los nie, ons het gestoei tot ons kon
druk! As die hele pakket nie daar was nie, was daar nie onderrig maar meer nog, nie omgee nie. Ek
dank my Vader vir elke oomblik saam met u en u kinders. Dankie dat u my gedra en verdra het. Dankie
dat ek my gawes en talente ook kon uitleef en gee. Wat 'n voorreg.
As ek van my kinders gepraat het, het my eie kinders altyd gevra “ ma is dit nou ons drie of ma se
skoolkinders.” Vandag kan ek met 'n oop gemoed sê, almal was sommer net my kinders. 32 jaar saam
met julle was gans te kort. Ek gaan my kinders verskriklik mis maar my hart is vol dankbaarheid vir 'n
wonderlike tyd saam met u almal. Spesiale dankie aan my “ou” kinders wie se kinders ook nou deel van
my lewe geword het! Julle is kosbaar en dis so lekker om te sien watter goeie ouers julle geword het!
Ja, daar is 'n tyd om te kom en 'n tyd om te gaan. As ek weer kon kies, het ek presies die lekker tyd saam
met julle en jul kinders tussen die twee tye gekies. Ek het 'n tyd van my lewe gehad. Soms hard, maar
bitter lekker! Dankie, dankie, dankie. Wat 'n voorreg.
Liefde
Juffrou Annelie
DIS HÓÉ ONS DIE WÁT DOEN