Page 277 - Landbou Binding Polisbewoording
P. 277
Huiseienaars
Fooie om munisipale planne te ondersoek
Die versekering onder hierdie Afdeling sluit fooie in om munisipale planne te ondersoek;
MET DIEN VERSTANDE DAT:
die totale bedrag verhaalbaar kragtens enige item nie die versekerde bedrag op die geaffekteerde gebou sal oorskry nie.
Herstelwaarde-voorwaardes
In die geval van eiendom wat beskadig word, sal die grondslag waarop die bedrag betaalbaar bereken word, die koste van die vervanging of herstel op dieselfde terrein, met eiendom van dieselfde soort of aard, maar nie beter of meer omvangryk nie as die versekerde eiendom toe dit nuut was;
MET DIEN VERSTANDE DAT:
1. die vervangings- of herstelwerk (wat op ʼn ander terrein uitgevoer mag word op enige manier wat aan die Versekerde se vereistes voldoen, onderworpe daaraan dat dit nie die aanspreeklikheid van die Maatskappy verhoog nie) aanvang neem en met bekwame spoed uitgevoer word, anders sal geen betaling gemaak word bo en behalwe die bedrag wat betaalbaar sou wees indien hierdie herstelwaarde voorwaarde nie hierby ingelyf was nie;
2. totdat uitgawes deur die Versekerde aangegaan is ter vervanging of herstel van die eiendom, die Maatskappy nie aanspreeklik sal wees vir enige betaling bo die bedrag wat betaalbaar sou gewees het indien hierdie Voorwaardes nie hierby ingelyf was nie;
3. indien, op die tydstip van vervanging of herstel, die bedrag wat die koste verteenwoordig wat aangegaan sou wees ter vervanging of herstel as die hele versekerde eiendom beskadig was, die bedrag oorskry waarteen dit verseker is by die aanvang van enige skade aan sodanige eiendom deur ʼn Omskrewe Gebeurtenis, die Versekerde geag sal word sy eie versekeraar te wees vir die verskil en hy dienooreenkomstig ʼn eweredige deel van die verlies dra. Elke item van hierdie Afdeling, indien meer as een, waarop hierdie voorwaardes van toepassing is, is afsonderlik aan hierdie Bepaling onderworpe;
4. hierdie voorwaardes van nul en gener waarde is, indien:
4.1 die Versekerde versuim om binne ses (6) maande vanaf die datum van skade, of sodanige verdere tydperk as wat die Maatskappy skriftelik mag toelaat, die Maatskappy in kennis te stel van sy voorneme om die eiendom te vervang of te herstel;
4.2 die Versekerde nie in staat is nie, of onwillig is om die eiendom op dieselfde of ʼn ander terrein te vervang of te herstel.
Huurders
Die Maatskappy se aanspreeklikheid teenoor die Versekerde word nie geraak deur enige optrede of versuim aan die kant van enige eienaar van ʼn gebou of enige huurder (behalwe die Versekerde) wat sonder die Versekerde se medewete geskied nie. Die Versekerde moet die Maatskappy egter van enige sodanige optrede of versuim, wat strydig is met die Bepalings, Uitsonderings of Voorwaardes van hierdie Afdeling, in kennis stel sodra hy daarvan bewus word en is dan verantwoordelik vir enige bykomende premie wat betaalbaar is vanaf die datum waarop enige verhoogde risiko deur die Maatskappy aanvaar word.
Inflasie
Die versekerde bedrag ten opsigte van die geboue hierkragtens verseker, sal maandeliks outomaties met 'n persentasie ooreenstemmend met prysindekse verhoog word.
Geen premie-aanpassing sal gedoen word tot die verjaringsdatum wanneer die premie dan op grond van die aangepaste bedrag bereken sal word nie. Hierdie stel die Versekerde nie kwyt van sy/haar verantwoordelikheid om te verseker dat die versekerde bedrag ten alle tye die volle vervangingswaarde van die eiendom verteenwoordig nie.
Kapitaaltoevoegings
Die versekering kragtens hierdie Afdeling sluit in veranderings, toevoegings en verbeterings (maar nie waardevermeerdering bo die versekerde bedrag(-e) nie) aan of tot die geboue, behalwe handelsvoorraad en -materiale, vir 'n bedrag wat nie 20% (twintig persent) van die versekerde bedrag daarop oorskry nie. Met dien verstande dat die Versekerde onderneem om die Maatskappy elke kwartaal van sodanige veranderings, toevoegings en verbeterings in kennis te stel en die toepaslike bykomende premie daarvoor te betaal.
Landbou Bewoording – Binding – Weergawe 1 2022 Bladsy | 275