Page 5 - nuusbrief 1 2025.cdr
P. 5
REDAKSIE
Redaktrise: Me. Annieka Moolman
Facebook-ontwerpe: Me. Lucelle Gilbert | Proeflesers: Dr. Dey en me. Ilse Biggs
Fotograwe: Personeel | Inligting: Organiseerders | Bladuitleg en -ontwerp: Pink Petals Design Studio
Hey, Hey, liewe Rooikat! Wees net lekker!
Wat 'n ongelooflike kwartaal het ons nie beleef nie! Die bladsye vol foto's van dit waarmee groot en klein besig was, laat 'n pragstorie van
kwartaal 1 ontvou – een van lekkerte, nuwe ervarings, pret, vasbyt en vorentoe beweeg sonder remme. Ons het die jaar afgeskop met
Leon Gropp se “Wees net 'n lekker mens!” wat ons saam met hom kon verander na “Wees net 'n lekker Rooikat” en die kosbaarste opname
van die liedjie wat ons jaar se credo geword het. Die lekkerste wat daaruit voortgespruit het, is ons kinders wat in die gange loop en
spontaan sing: “Wees net lekker! Wees net 'n lekker Rooikat!”.
My eerste woorde aan die begin van elke jaar as ek in ons maats op die stoepe vasloop, is: “Dankie tog jy het teruggekom! Ons het so
verlang! Juffrou was so bang jy hou so baie van vakansie dat jy altyd op vakansie wil bly!” So tussen die laggies deur, skud elkeen baie ferm
kop en die oë vonkel! Vanjaar vra ek sommer spontaan vir die seniors “en wie is jou oulikste onderwyser vanjaar?” en kry ek soos een man
oor die grade heen dieselfde reaksie...eers 'n “Hmmmm” van dink en dan sonder huiwering antwoord hulle: “ALMAL!”. Hoe spesiaal. Nie
eers een van die baie waarmee ek speel, wyk af nie en die ogies bly vol vonkel.
Ek loop in mnr. Louis Boshoff vas en sy oë vonkel en ek vra: “Liewe Meneer, hoekom lyk jy so vrolik?” en hy antwoord met 'n breë glimlag:
“Ek was in die klas en dit was nou só lekker!” Die vonkel sien jy ook in mnr. Francois se oë wat die nuwe kreet leer vir ons maats en al raak
sy stem weg en stroom die sweet hom af, vonkel sy oë die hele tyd.
Daar is 'n wonderlike boek, “The importance of being little” deur Erika Christakis, wat vertel dat die wonder van kleinwees in 'n groot
wêreld in die geleentheid om te ontdek en te ervaar lê. Toe ons by Rooikatland oor kieme leer, laat Juffrou Jana haar graad RR-klas met
blinkertjies speel en wys sy dat die blinkertjies op jou hande bly en as jy iewers vat bly die blinkertjies daar agter en kieme werk net so. Ons
Graad RR-juffrouens laat toe dat die hele Rooikatland vol blinkertjies word, omdat almal kieme-kieme speel en ontdek. Dis belangrik om
klein te wees en dat 'n juffrou of meneer vir jou kans gee om te ontdek wat gebeur wanneer dit wat jy leer, deel van die lewe word. Toe ons
koor se nuwe begeleier ons kreet in Zoeloe skryf, lyk dit woes moeilik, maar daar verras die lekker Rooikatte ons en leer dit in 'n japtrap
aan. Dis belangrik om klein te wees en kans te kry om te ontdek en nuwe dinge te probeer, want elke ontdekking vorm 'n
lewensingesteldheid.
Op 8 Mei neem ons Laurika Rauch se lieflike liedjie, “Hey, Hey liewe lewe” met die besondere begin van “as jy dink jy kan my onderkry, kom
ek vertel jou 'n storie van my, ek gee nie sommer op nie!”, op. So tussen al die uitdagings deur, leer ons Rooikatte dat ons maklik roep “Hey,
Hey, liewe lewe”, want “ons is lekker Rooikatte” wat nie maklik opgee nie. Ons leer dit elke dag iewers op die heuwel waar ons skoolhuis is.
Ons massalandloop, die Voortrekkermonument-pretdraf, die vasbyt met ons skool se verjaardag in die reën wys sommer net hoe ons
Rooikatte en Rooikat-ouers kan vasbyt... want dis 'n Rooikat se storie: bene wat vasbyt as ons draf en wiele laat rol oor ruwe terrein,
vasbyt as ons akademie pak in 'n wilde-weghol-tyd en vasbyt om die hoogste prestasies te behaal, maar ook vasbyt as ons Graad RR en R'e
die lang grasbaan na die stoelstreep toe vir 'n eerste keer hol. Dis 'n lekker houding en ingesteldheid van ouers en Rooikatte wat kragtoere
hier by ons skooltjie op die heuwel laat ontvou. Elke Kwartaal 1-aktiwiteit het gewys, lekker Rooikatte weet “die lewe skuld jou niks nie”
en “jy hoef net lekker te wees omdat jy dan lekker is!” Ons harte is vol met dankbaarheid aan die einde van die besondere kwartaal, waarin
elke gesin die vonkel laat aansteek het, soos die blinkertjie-kieme en hulle Rooikatte gewys het hoe om die wat te doen!
Hey, Hey, liewe Rooikatte, dit was 'n lekker Rooikat-storie saam met jou!
Me. Annieka Moolman
Adjunkhoof/Redaktrise
DIS HÓÉ ONS DIE WÁT DOEN