Page 335 - Landbou Binding Polisbewoording
P. 335
Motorbote, seiljagte en klein vaartuie
4. Berekende algehele verlies
Tydens die bepaling of die vaartuig 'n berekende algehele verlies is, sal die versekerde waarde geneem word as die herstellingswaarde en sal die beskadigde waarde of sloopwaarde van die vaartuig of wrak geheel en al buite rekening gelaat word. Geen eis vir 'n berekende algehele verlies gebaseer op herwinnings- en/of herstelkoste van die vaartuig sal hieronder verhaalbaar wees nie, tensy sodanige koste die versekerde waarde sou oorskry.
5. Susterskepe
Indien die versekerde vaartuig in botsing sou kom met, of bergingsdienste ontvang van 'n ander vaartuig wat in geheel of gedeeltelik aan die Versekerde behoort, of onder dieselfde bestuur is, sal die Versekerde dieselfde regte onder hierdie Afdeling hê as wat hy sou gehad het indien die ander vaartuig geheel en al die eiendom was van eienaars wat geen belang in die versekerde vaartuig het nie. In sodanige gevalle sal die aanspreeklikheid vir die botsing verwys word na 'n enkele arbiter op wie ooreengekom is tussen die Maatskappy en die Versekerde.
Geografiese grense
Die Maatskappy sal nie aanspreeklik wees nie ten opsigte van enige ongeluk, besering, verlies, skade en/of aanspreeklikheid veroorsaak, opgedoen of aangegaan:
1. buite die gebiedsgrense van die Republiek van Suid-Afrika, Lesotho, Botswana, Eswatini (voormalige Swaziland), Namibië, Mosambiek, Zimbabwe, Zambië en Malawi;
2. buite 'n kruisafstand van 12 (twaalf) seemyl vanaf die kuste van die Republiek van Suid-Afrika, Namibië of Mosambiek;
TENSY:
sodanige geografiese grense en kruisafstand ten opsigte van plesierbote spesifiek by wyse van Endossement uitgebrei is.
SAMSA-regulasies
Versekering ingevolge die Afdelings van die Polis, of enige daaropvolgende hernuwing daarvan, is van nul en gener waarde indien:
1. die Vaartuig nie voldoen aan die ontwerp- en konstruksievereistes soos uitgeengesit in die Handelskeepvaart- regulasies 2007 nie;
2. die vereistes vir skippers, soos uiteengesit in die Handelskeepvaartregulasies 2007 om ten alle tye in besit te wees van ʼn Geskiktheidsertifikaat, nie aan voldoen word nie;
3. die Vaartuig, soos uiteengesit is in die Handelskeepvaartregulasies 2007, nie ten alle tye beskik oor en in besit is van ʼn Geskiktheidsertifikaat of plaaslike Algemene Veiligheidsertifikaat nie;
tensy sodanige Vaartuig ʼn seilvaartuig van minder as nege (9) meter in lengte is, of beskik oor kragaandrywing van 15 (vyftien) perdekrag of minder, of die Vaartuig deur menslike krag alleen aangedryf word.
Sorgsaamheid
Die Versekerde moet alle redelike voorsorgmaatreëls tref om die vaartuig, sleepwa en ander eiendom deur hierdie Afdeling verseker is in 'n behoorlike staat van herstel en in 'n see- en padwaardige toestand te hou en sal voortdurend alle redelike voorsorgmaatreëls tref vir die veiligheid van sodanige eiendom en om verlies, skade en ongelukke te voorkom.
Spoedbeperking
Die maksimum ontwerpte spoed van die versekerde vaartuig of die moedervaartuig in die geval van ʼn vaartuig met boot/bote, mag nie 53.75 knope (100 kilometer) per uur oorskry nie.
OORDRAG
Geen oordrag van belange in hierdie Afdeling of in enige gelde wat betaalbaar is of mag word ingevolge hierdie Afdeling sal erkenbaar wees deur, of bindend wees op die Maatskappy nie tensy 'n gedateerde kennisgewing van sodanige oordrag of belange geteken word deur die Versekerde en (in geval van daaropvolgende oordrag) deur die oordraggewer op die Afdeling geëndosseer word en, die Afdeling met die endossement voorgelê word voordat betaling van enige eis, of terugbetaling van premie daaronder gemaak sal word, maar niks in hierdie klousule sal die strekking hê van 'n ooreenkoms deur die Maatskappy met betrekking tot 'n verkoop of oordrag aan 'n nuwe bestuur nie.
Landbou Bewoording – Binding – Weergawe 1 2022 Bladsy | 333