Page 31 - Remembrance in Emotion Book Cover Photo Poetry Book Example_Neat
P. 31
Plakboek
Te veel van my blaaie in my boek is in my leeftyd uitgeruk.
Die uitgerafelde onthoue laat net méér stiltes in die graf van ons monde kom.
Soveel druk in my hart. Soveel smart. Soveel seer. Maar ook soveel liefde.
Maar, die lewe roér my nog al te veel. (as jy wou weet)
Soos onheil en soos vrees wat my nagte vermom.
Ek is verstom dat ek werklik nog in hierdie wêreld is.
Ons is deur sò ongelooflik baie in die verlede.
Maar dit is net dit. In die verlede.
Jy is weg en ek bly agter.
Onthou jy nog die rots hoe dun ookal gesplyt ék vir jou wou wees,
maar dat daar ‘n moerse klip in ons pad was.
onthou jy (net dalk) dat ek soveel maal jou gebreekte dele wou genees.
maar dat jy onverskrokke bly staan het sonder opgee.
Net soos ek.
Soos palmiete in die wind waai ons blare net rond.
Onthou jy nog? Toe ek jou weggeruk het uit die besete hande van verdrukking.
maar dat jou keel reeds die strop gewoond was.
Dit is hartseer dat jy gedink het dat geen gevoel liefde is.
Kan jy onthou dat ek meer gehuil het as jy seer kry.
Dat ek alle vrees in die gut sou kyk vir jou?
of het ek te sag geswoeg en te veel geknak in joú onthou?
onthou jy (darem net soms) hoe die wieg van my arms jou naby sou hou,
en hoe my skoot vir jou ‘n huilplek was?
Ons met die oë wat deur wêrelde kan kyk en deur mense;
onthou jy die berge wat ons uitgeklim het. Ons het geskreeu om al die pyn uit te kry.
Die plek waar niemand kon kom nie, daar was meer saligheid.
onthou jy die brûe waar ons gesit en gesêls en gehuil het?
Ek sal daardie bladsye in my boek nooit vergeet nie.
Weet jy teen hoeveel winde ek moes veg om om kop te hou?
dieselfde winde wat noú en hiér tussen my skeur asóf hulle mag.
Ek wonder of vlerke (regtig) ver kan span.
Weet jy dat ek nou nog vir jou bid en soms verstrengel raak in ‘n snik,
want die wít het ons verlaat en die grint het gebly.
En jy is weg. Ek moet nog agter bly.
Maar óór jou moet jy net weet, hier verlaat nét lig uit my mond -want-
te veel van my blaaie is die laaste tyd uitgeskeur.
Die uitgerafelde onthoue laat net méér stiltes in die graf van ons monde kom.
Maar hierdie lewe roér my nog soos onheil en soos vrees wat my nagte vermom.
L.L.