Page 19 - Afrikaans e-Book (Grade 1-4)
P. 19
Soos die dae verbygaan, raak Bennie meer en
meer bekommerd oor Lisa. Hy besluit om die vol-
gende dag na haar toe te gaan. Hy is bang. Hy
het nog nooit so ver weg van die huis gereis nie,
maar Lisa het ‘n vriend nodig.
Bennie klim in sy bootjie en kyk na die wolke. Hy
trek sy visstok terug en gooi die hoek in die rigting
van die naaste wolk. Hy vang die wolk. Net toe hy
wil uitroep van blydskap waai ‘n sterk wind die
wolk weg, maar Bennie, wat aan die visstok
vashou word saam gewaai. So vlieg Bennie deur
die lug. Hoër en hoër.
Hy kom tot bo in die hemelruim en ‘n verskietende
ster vlieg verby. Vinnig vang hy die ster met sy
vissstok. Die ster vlieg so vinnig dat hy amper die
maan mis. Bennie dink darem vinnig en spring
met sy visstok van die ster af. Ploef! Daar val hy
op die maan. “Eina!” dink Bennie.
“Bennie!”
Bennie draai om en sien vir Lisa. Haar oë groot
van verbasing. “Wat maak jy hier?” vra sy.
“Ek was bekommerd oor jou,” sê Bennie, “Jy het
opgehou dans.”

