Page 42 - Merensky Vat 50 Reunie Album
P. 42
“VAT 50” KLAS VAN 1968
Boodskappe
Lenie van Eeden
Gegroet al die matriekmaats van 50 jaar gelede!
Woorde moet nou maar die plek inneem van fisiese teenwoordigheid op die fees waaraan julle so hard
werk.
Dis met lag, dankbaarheid, deernis en ook trane wat ek julle gesels met mekaar lees. Op 'n besondere
manier het elkeen die lewe deurleef en die soet en suur daarvan ervaar. Nie een van ons is onaangeraak
deur omstandighede, mense en keuses nie. Soos klein legkaartblokkies het ons in mekaar se lewens ingebou
- al is dit nou ook oor die selfoon!
Tot hier toe, is ons baie tyd gegun om uit te leef wie ons is, maar die pad wat nou voor ons lê, is korter as
dié wat agter ons is.
My grootste begeerte vir ons almal is dat ons die beste gebruik sal maak van elke dag waarmee ons geseën
word. Al kan ons omstandighede nie verander nie, kan ons verkies hoé ons daarop gaan reageer.
Dit gaan nie 'n maklike pad wees nie, maar omdat ons almal spesiaal vir hierdie tyd op die aarde geplaas is,
kan ons ook seker wees dat ons toerusting sal ontvang vir die res van ons lewenspad, totdat ons voor ons
Maker sal staan.
In my hart wens ek om by julle almal te wees met hierdie groot, gróót geleentheid. Hoe kosbaar om mekaar
as volwassenes te beleef en opnuut te leer ken en waardeer!
Julle is almal baie spesiaal en geseënd met gawes uit ons Vader se hand. Moenie die klein dingetjies gering
ag, jou meet aan ander of aan wêreldse standaarde nie. Jy is uniek, so ook elke mens wat op jou pad
gestuur word. Jy is dalk die laaste geleentheid wat iemand kry om liefde te ervaar of te sien hoe n pad van
lig uitgeleef word.
Ons moet nou, meer as ooit tevore geloof en hoop behou en nie moedeloos word as die pad opdraande
loop nie.
Geniet en waardeer mekaar en die spesiale geleentheid om mekaar van aangesig tot aangesig te sien.
Baie dankie vir elkeen van julle wat in 'n groter of kleiner mate 'n inset in my lewe gehad het. Daarsonder
sou ek arm gewees het.
As ons mekaar nie in hiérdie lewe iewers raakloop nie, vertrou ek dat ons mekaar weer sal sien in
volmaakte, ewige volkomendheid wat in die vooruitsig is.
Liefdegroete uit 'n warm Wes-Kaap
Lenie