Page 39 - Merensky Vat 50 Reunie Album
P. 39
”VAT 50” KLAS VAN 1968
Boodskap van Mnr. Jim Cameron
Ek het ‘n senior assistentspos in Afrikaans by die Hoër Landbouskool Merensky in Januarie 1963 aanvaar.
Ons oudste dogter, Susan, en ons pointerhond, Jorsie, was ons enigste lewende besittings.
Ons was entoesiastiese tennispelers, teatergangers, lesers en ek en Jorsie het in die omgewing by die boere se
tamatielande tarentale en fisanste gejag.
Die skool was vir ons ‘n belewenis. Ek het op Pietersburg Hoërskool matrikuleer, op Groblersdal begin skoolhou,
bevordering na Middelburg Hoërskool (op daardie stadium geklassifiseer as projekskool) gekry. En toe land ons op
Merensky – ‘n landbouskool. Hier was ‘n melkery, varkboerdery, en groente en vrugte. Hier het ons lichis (vir ons ‘n
nuwe vrug), mangos, lemoene, nartjies, pynappels, piesangs en papajas in oorvloedgehad!
Die skool en gronde was omring deur van die mooiste natuurlike bosse en bome. Die plek was eenvoudig vir ons ‘n
fees. Verder was die plek voël bevolk met ‘n groot verskeidenheid soos tarentale, fisante, vrugtevreters , die mooi
bosveldpappegaai, bloukuifloerie en die kwêvoël, die Afrikaanse koekoek, die Piet-my-vrou, die Die dierikkie en die
Meitjie, loeries, uile, troupante…ek sou kon aangaan. Vir ons uit die Hoëveld en die droeër dele van Transvaal, was
die subtropiese voëls ‘n studie en ‘n visuele genot.
Natuurlik het ons in die tuine, probleme met bosvarke gehad. Hulle het veral groente soos tamaties, pampoene,
skorsies en boontjies baie skade aangedoen. Ek en my hond het met groot vreugde op hierdie terrein ‘n bietjie
gehelp. Ons het maar ongeveer 400 seuns en dogters op skool gehad, maar ons sport het uiters goed vergelyk met
Potgietersrust, Pietersburg, Louis Trichardt en Messina.
Die skool het as ‘n opvoedkundige inrigting groot bekendheid verwerf. Ons hoof, Mnr. Mitchell, het baie moeite met
kulturele gebeure gedoen. Ons het dan ook kinders van heinde en ver gekry: Louis Trichardt, Messina,
Johannesburg, Kaapstad en Suidwes.
Ek en Jan Coetzee het een Julie vakansie die Suidwesters huistoe geneem. Pieter Geider en Greitjie von Goldammer
se ouers, wes van Windhoek, het ons getrakteer op gemsbokke, springbokke, koedoes en tsessebes.
Merensky as skool het natuurlik hulle meeste kinders uit die Laeveld tot by Komatipoort gekry. En glo my, dit was
toentertyd nog ‘n baie goeie jaggebied. Jan van Melle se “Oom Karel neem sy geweer saam” is ‘n merkwaardige
storie van die ou jagter wat jaarliks nog in die Laeveld kom jag het. Die oubaas het ook geglo dat as hy tot sterwe
kom, hy sy ou Martini Henry sal saamneem Hemel toe: “God het mense soos hy nodig om ook daar dissipline te
handhaaf”. Hierdie besondere gees van Oom Karel, kleur Merensky vir my. Ek is oortuig dat ek eendag daar
anderkant Merensky sal help.
Middae 4 uur het ons in die koshuise koffie gedrink. Die manne het dan met hulle kosblikke in groepies bymekaar
gesit en gesels. En glo my dat uit omtrent al die blikke het biltong gekom. En die stories: dit het my baie laat dink
aan “Lost trails of the Transvaal” van T.V. Bulpin, waar uiters interessante gebeure om skiet en jag nog altyd afspeel.
Stories oor die Reënkoningin, Modjadje, wat ‘n legende in daardie wêreld was, het ook soms om die kosblikke
geflikker.
Hierdie mitiese karakters en gebeure – en hierby sluit ek Oom Bossie, Ossie en Mej.Santjie in (hulle was begaafde
onderwysers met ‘n fyn sin vir humor en die legendariese) het bygedrae dat die skool ietwat van ‘n besondere
romantiese karakter ontwikkel het. Die kinders het uit ‘n gebeurewêreld gekom waarmee hulle die skool, Merensky,
verryk het.