Page 14 - Getroud met 'n Leuen
P. 14
NabasDiep VERLIEF OP 'n LEUEN
DEEL I: HOE LYK 'n TOKSIESE VERHOUDING?
Hoofstuk I: Die Verhouding Lyk Reg Maar Voel Verkeerd.
Die Huwelik Se Aanloop Lyk En Voel Eg, Maar Is Dit?
‘n Mens staan nie net een oggend op en so met die wakkerword dan is jy ook sommer verlief
nie. Nog minder staan jy een oggend op en dan is jy getroud nie. Nee, daar is sommer baie
wat moet gebeur as jy die dag iemand ontmoet wat jou belangstelling prikkel. Ek meen die
een proses volg die ander op soos: jy ontmoet die persoon, jy gaan uit met die persoon, stadig
maar seker ontwikkel daar gevoelens en hopelik is die gevoelens wederkerig, en dan op ‘n
dag besef jy daar is verliefdheid in die lug en so met die verloop van tyd kan dit moontlik in
ware liefde ontwikkel.
Ek het al gehoor van liefde met die eerste oogopslag. Ek reken dit is heel moontlik, maar selfs
dan moet mens nog steeds deur al die stappe gaan totdat dit uitloop op die dag van die troue.
Nou, dis nie dat ek ‘n kenner is nie, maar ek dink aan die hofmakery, die bekendstelling van
die spesiale persoon aan familie en vriende en ek dink aan die tyd wat dit vat om mekaar te
leer ken. Dis nou nie dat ons nie almal ons geite het nie, en soms maak die geite dat ons koue
voete kry.
Die huwelik- dit is ’n gawe van ’n liefdevolle God. As ons ‘n pad saam met die Here stap, dan
vertrou ons dat die tyd ons sal leer wat reg en verkeerd is. Maar dan is dit so dat dit soms
gebeur dat een van die partye in die verhouding baie haastiger is as die ander party. Nie
omdat die stadiger party anders wil wees nie, bloot omdat dit net sin maak om mekaar baie
goed te leer ken. Die ou mense het altyd gesê: “ 'n haastige hond verbrand sy mond”, maar
in 'n toksiese verhouding sou die gesegde eerder moes wees: “ 'n stadige hond het 'n beter
kans op geluk”. In die geselskap van toksiese mense knaag die moontlikheid dat daar
sogenaamde geliefdes is wat glad nie binne hierdie proses wat bestaan uit die hofmakery, ken
mekaar, geloof ensovoorts en die prosesse wat na die troue lei, na waarde ag nie. Of selfs
geen duit daarvoor omgee nie? Nee, dis tog nie moontlik nie, of erger: dit is verregaande. Of
is dit? Is dit moontlik dat daar mense is wat hierdie proses vir heeltemal ander doeleindes
kaap. Nou praat ek nie van kriminele redes nie, ek praat van duister psigiese redes. Dis net
nie moontlik nie, maar kan mens te naïef wees wanneer dit by mense kom?
Kan mens jou dit indink dat daar mense is wat blatant ‘n hofmakery, ‘n erkentenis van liefde
kan namaak, die ander persoon oorweldig met liefde en tere woorde uiter maar nie met die
doel om ‘n verhouding te skep nie. Nee, dis verregaande verby! Kan nie waar wees nie! Nog
erger, die toneelspel word aangejaag, dié liefde is so groot dat daar ernstig gehaas moet word
na die groot dag. Soveel so dat hierdie potensiële lewensmaat self die slagoffer se
persoonlikheidskwaliteite oorneem en meer soos die slagoffer word as wat die slagoffer self
is. Verskoon dat ek nou die nare woord van slagoffer hier moet gebruik, ons is eintlik besig om
een van die belangrikste besluite (trou) van jou lewe hier te bespreek. Dit is nou naas jou
besluit om die Here lief te hê.
O, maar dit is ook nie ‘n probleem nie, die toksiet (die potensiële lewensmaat in ons paartjie –
die een sal die slagoffer wees en die ander een noem ons toksiet of narsis) is net so gelowig
* Verwys asseblief na die Verkorte Woordelys agter. 14